Hoofstuk 29 – 14 September 2023
Geskryf deur: Sarina Bosman
Ek kyk op my horlosie. Dis 04:30. Ek sit in my motor voor groot hek van die parkeerterrein van Radio Pretoria se gebou in Braam Pretoriusstraat. Ek kan nie by die hek inkom nie, want sien, dit is my eerste dag op kantoor en ek het nog nie ‘n sleutel vir die hek gekry nie, so ek wag geduldig vir een van my nuwe kollega’s om op te daag.
Ek moet 05:00 in die ateljee wees vir my eerste skof as regisseur van die Ontbytprogram. Ek voel die vlinders in my maag. Senuwees? Nee, opwinding. Ek wonder hoe ek my voete gaan vind in hierdie nuwe werksplek. Wat hou hierdie nuwe hoofstuk vir my in?
Dis 04:40 en een van my nuwe kollega’s klim uit sy kar om die hek vir my oop te maak. Ek sien die simboliek dadelik raak – op hierdie oomblik het die hek letterlik en figuurlik vir my loopbaan en my menswees opgegaan.
As die radiogogga jou eers byt, los hy jou nie weer nie. Toe ek 12 jaar oud was het ek besluit dat ek eendag ‘n radio-omroeper wil wees. As klein dogtertjie het ek graag “radio-radio” gespeel deur musiek op twee verskillende CD-spelers te speel en tussendeur die liedjies met die “mense” te praat. Ek het probeer om my belangstellings en vaardighede so in te skerp dat ek hopelik eendag op die radio kan praat. Daarom was ek so lief vir redenaars en voordrag.
Toe ek in 2009 hoor dat Radio Pretoria ‘n studiebeurs aanbied vir ‘n student wat Joernalistiek wil studeer, het dit gevoel of dit vir my gemaak is. Ek het dadelik die bestuur gekontak en was verheug toe die beurs aan my toegeken is. Dit het my ook die geleentheid gebied om tydens vakansietye by die radio te kon werk en sodoende vaardighede te leer wat my ook met my studies gehelp het.
Voortdat ek graadvang, het ek weer met die bestuur kontak gemaak en daar is ek genooi om as programregisseur by die Ontbytprogram betrokke te raak. En dit is hoe ek 04:30 op ‘n Septemberoggend voor die radio se hek beland het.
Die lekker ding is dat ek deur die jare saam met die radio kon groei. Ek het as jong student by die radio betrokke geraak.
Eers as programregisseur, later as programaanbieder en nou ook op bestuursvlak.
Ek het gesien toe die radio se handelsmerk vir die eerste keer verander het en ek was hier toe die naamsverandering in 2015 plaasgevind het. Ek het elke keer ook saam getrek – van die Magmedgebou na die HB Forum gebou en uiteindelik ons mooi kantore by Loftus Park. Ek was hier toe ons gemeenskapsuitsaailisensies goedkeur is en toe ons deur Primedia hof toe gesleep is. Ek het kollega’s gesien kom en gaan.
Ek was hier toe ek verloof geraak het, getrou het en Mamma geword het.
Iemand vra onlangs vir my of dit nie vervelig is om vir so lank by dieselfde plek werk nie en my antwoord, sonder om te aarsel, was dat die radio die afgelope dekade so ontwikkel het, dat ek ook voortdurend moes ontwikkel en dus nooit gestagneer het nie.
Vandag nog, elke keer as ek agter die mikrofoon inskuif, voel ek dieselfde vlinders in my maag wat ek op daardie eerste dag voor Radio Pretoria se hek beleef het.
Dit bly ‘n voorreg om elke dag my droom uit te leef. Hier by die radio het ek al die wonderlikste mense en vriende leer ken en die lekkerste lewenservaring opgedoen.
Ek is opgewonde om te sien wat in die volgende 30 jaar gaan gebeur.
