27 Junie 2024
Die burgemeester van die Matlosana-munisipaliteit in die Klerksdorp-omgewing in Noordwes, James Tsolela, sê daar was niks ongerymd aan die meer as R100 000 wat vir verkiesingsdoeleindes direk in sy bankrekening inbetaal is nie.
Volgens Tsolela is sy bedanking geensins ’n skulderkenning nie.
Hy het vandag erken dat die betalingsbewys van ’n beweerde skenking aan die ANC wat in sy rekening inbetaal is, tot sy bedanking gelei het.
Dit volg nadat die betalingsbewys onlangs die rondte op sosiale media gedoen het.
Tsolela sê hy en die ANC het ’n ooreenkoms bereik dat hy sal bedank as burgemeester, omdat die bewerings van ongerymdhede, die party in ’n negatiewe lig stel.
Hy het dit egter beklemtoon dat hy ’n raadslid bly tot verdere kennisgewing.