5 Oktober 2021
‘n “Stadion” wat gister deur die Enoch Mgijima-plaaslike munisipaliteit naby Komani in die Oos-Kaap geopen is, het talle sosiale media-gebruikers verward gelaat omdat dié sportsgronde volgens die munisipaliteit glo R15-miljoen gekos het om op te rig.
Foto’s van die Lessyton sportsvelde is op sosiale media versprei, maar daar is egter slegs enkele paviljoene opgerig – bloot soos dié wat op skoolgronde gebruik word.
Dit moet glo vir sokker- en rugbywedstryde deur plaaslike inwoners gebruik word.
Die munisipaliteit het aanvanklik dié bekendstelling op sy Facebook-blad bemark, maar die plasing is intussen verwyder.
Die woordvoerder van die munisipaliteit, Lonwabo Kowa het in ‘n verklaring gesê dat hul bewus is van mense se kommernisse rakende die bedrag wat bestee is om die sportsveld op te rig. Hy sê die uiteensetting van die aanvanklike plasing, sonder die nodige besonderhede, is teleurstellend.
Volgens Kowa het hulle in Maart 2020 met die konstruksie van die “stadion” begin. Hy sê die bedrag is gebruik om onder meer te betaal vir palissade omheining, die ontwikkeling van rugby- en sokkervelde, rots-skietery, grondverwerking, ‘n atletiekbaan, badkamers, aantrekkamers en ander geriewe.
“Die munisipaliteit het dié belegging in ‘n afgeleë gemeenskap gemaak om sportsaktiwiteite in die gebied te bevorder.”
Stem vir die Aitsa’s