29 September 2023
‘n Watertenkwa van die Tshwane-metro is omstreeks 13:30 vanmiddag in Waltloo-straat in Silverton in die ooste van Pretoria deur ‘n groep verdagtes geteiken en aan die brand gesteek.

Die raadslid vir wyk 41, Ben Chapman sê volgens die inligting wat hy ontvang het was daar drie persone in die watertenkwa toe dit geteiken is.
Hy sê die bestuurder en een passasier is nie beseer nie, terwyl ‘n vrou met ‘n baksteen in die gesig gegooi is.
Die Tshwane-metro het intussen die nuutste vlaag van aanvalle op eiendom in die metro veroordeel. Gisteraand is die Tshwane-metro se kantore deur lede van die EFF gevandaliseer toe hulle klippe deur vensters gegooi het. Tien vensters is gebreek.
Vanoggend is twee busse van die Tshwane Busdienste deur verdagtes in Kgosi Mampuru-straat geteiken toe hulle op pad terug was na die busdepot. Die stadsbestuurder, Johan Mettler sê 47 busse het vanoggend die depot verlaat vir die oggenddiens toe hulle óók geteiken is. Vensters is stukkend gegooi en deure is gebreek.

“Ons het die besluit geneem om die Tshwane Busdienste weer op te skort tot verdere kennisgewing.
Vroeër vandag is twee elektrisiëns van die metro in Bosman aangeval terwyl hulle besig was om brandstof in die metro se voertuig te gooi, Die voertuig is beskadig en een van die werknemers is beseer.