3 Augustus 2023
Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), dring aan op ingryping van die provinsiale regering in die beweerde onreëlmatige aanstelling van ʼn nuwe munisipale bestuurder in dié munisipaliteit.
Die party het ʼn dringende skrywe hieroor gerig aan Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake, Nono Maloyi.
Die VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, Marlene Steyn du Toit sê dit volg nadat die bestuurder, Kgomotso Kumbe, se aanstelling tydens ʼn munisipale raadsvergadering vroeër vandeesweek op aandrang van die ANC, die EFF en die Patriotic Alliance (PA) bekragtig is. “Die VF Plus het sterk kapsie gemaak teen die aanstelling.”
Steyn du Toit sê Kumbe, wat reeds as waarnemende hoof finansiële beampte in die munisipaliteit in omstredenheid gedompel was, se aanstelling is gekenmerk deur proseduriële onreëlmatighede en bewerings van ongerymdhede.
“Die waarnemende munisipale bestuurder, Sandile Tyatya, het in die raadsvergadering selfs aangekondig dat hy strafregtelike klagte teen Kumbe by die polisie ingedien het weens tender-ongerymdhede en ʼn botsing van belange.”
