10 Julie 2023
Die VF Plus in Mpumalanga sê die departement van sport en kultuur in die provinsie het R17-miljoen aan ‘n finansiële konsultant betaal vir ‘n projek wat nog nie begin is nie.
Volgens die VF Plus se leier in Mpumalanga, Werner Weber staan die grond vir ‘n voorgestelde kulturele kern in Witrivier nog leeg, al is die konsultant alreeds in Desember 2021 aangestel om ‘n vatbaarheidstudie te doen vir die projek. Die doel was ook om privaat beleggers te lok.
Die voorgestelde kulturele kern het belastingbetalers alreeds teen 2021 sowat R175-miljoen gekos, en het ‘n totale begroting van R5-miljard. Weber sê die VF Plus het die eiendom die afgelope naweek besoek en is met ‘n leë onkruidbegroeide stuk veld begroet.
Hy meen die perseel was inteendeel nog meer vervalle as met die party se vorige oorsigbesoek in 2022.
“Luidens antwoorde op vrae aan die LUR, Busisiwe Shongwe, het die projek sedert 2011, toe die vorige LUR en oud-premier David Mabuza dit aangekondig het, nog nie nasionale tesourie se goedkeuring ontvang nie. Hiervoor moes ʼn spesiale raadgewer eers aangestel word. Ná die aanstelling in 2021, en nadat honderde miljoene rand reeds bestee is, is die projek eers goedgekeur,” sê Weber.
