Nuuskommentaar: 22 November 2022
Deur: Mari Oosthuizen
In die afgelope paar weke het aktiviste, wat hulle beywer teen klimaatsverandering, verskeie ikoniese kunswerke wêreldwyd geteiken.
In sommige gevalle is kapokaartappels, sop, en koek op kunswerke gesmeer. Sommige aktiviste het selfs hulle hande aan die kunswerke op op mure by die kunswerk vasgeplak.
Van die aktiviste groepe sê hulle probeer ‘n boodskap versprei om mense aan te moedig om nie fossiel brandstowwe te verbrand nie.
In Oktober het twee vroue tamatiesop op die Nederlandse skilder, Vincent van Gogh se skildery, Sunflowers in Londen se Nasionale Gallery gegooi. Dié olie op doek skildery is in 1888 geskilder en is naas Starry Night een van Van Gogh se bekendstes.
Die aktiviste wou weet of kuns hoër geag behoort te word as kos of hoër as mense se lewens. “Is julle meer bekommerd oor die beskerming van kuns as die beskerming van ons planeet en sy mense?” Wou hulle weet.
Enkele weke later het twee Duitse aktiviste die Franse kunstenaar, Claude Monet se skildery, Les Meules met kapokaartappels besmeer. Dit is in 1890 geskilder en is meer as 97-komma-4-miljoen pond werd.
Vroeg in November het die Nederlandse skilder, Johannes Vermeer se bekende Girl with the Pearl Earring skildery van 1665 deurgeloop. ‘n Aktivis het sy kop aan die glas bedeksel van die skildery vasgegom. Dié skildery is so waardevol dat kunskenners dit moeilik vind om ‘n geldelike waarde daaraan te heg.
Dit bring ons terug na die aktiviste se vraag: “Is kunswerke se beskerming belangriker as die beskerming van die aarde en sy bewoners?”
Die antwoord is nee, máár hierdie skildery wat honderde jare gelede geskilder is, kan nié ten koste van klimaatsverandering verwoes word nie. In die 16-, 17 en 1800’s wat hierdie kunswerke geskilder is, was klimaatsverandering nié ‘n kwessie nie en was die term nog nie bekend nie.
Sonder die post-impressionis, Vincent van Gogh, die stigter van impressionisme, Claude Monet, die renaissance kunstenaar, Leonardo da Vinci en die pop-art kunstenaar, Andy Warhol sou die lewe darem een vervelige plek gewees het.
Vir diegene wat nié kuns waardeer of verstaan nie, is hierdie kunswerke dalk “lelik, oud-modies, en onnodig belangrik geag,” maar die skilderye is nie bloot ‘n paar kwashale op doek nie.
Dit is só veel meer werd as olie, akriel en houtskool. Dit is geskiedenis van onskatbare waarde, wat nooit weer vervang sal kan word nie. Mense het die reg om te voel soos hulle wil, klimaatsverandering is ‘n reuse probleem en bekommernis, maar….
ASSEBLIEF los die kunswerke uit.
FOTO: News 24