Nuuskommentaar: 18 Februarie 2022
Deur: Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
In Februarie vier die hele wêreld Moedertaalmaand. Volgens UNESCO is daar ʼn beduidende verband tussen aantal jare moedertaalonderrig en akademiese prestasie. Ten minste tot op ‘n ouderdom van 12 jaar is moedertaalonderrig noodsaaklik om leeragterstande uit te skakel. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum beskou homself as ʼn kampvegter vir alle moedertale, maar spesifiek Afrikaans en moedig Afrikaanse skole aan om moedertaalonderrig te koester en te waardeer.
Sonder om grondslag wat moedertaalonderrig bied is dit vir leerders baie moeiliker om konsepte te verstaan en te verduidelik, argumente te regverdig en doeltreffend te kommunikeer. Moedertaal speel ook ’n belangrike rol in waarde-oordrag en die ontwikkeling van kreatiwiteit en probleemoplossing.
Die regering van Suid-Afrika skryf toenemend slegs Engels voor as die taal wat deur owerhede regoor die land gebruik moet word, ten spyte van die Use of Official Languages Act, 2012, ten spyte daarvan dat die Grondwet van Suid-Afrika voorsiening maak vir die algemene gebruik van ten minste twee amptelike tale deur die nasionale en provinsiale regering, en ten spyte daarvan dat die Grondwet ook spesiaal in artikel 29(2) voorsiening maak vir die reg om “onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse … insluitende enkelmediuminstellings”.
Ons matriekverslag toon egter jaarliks hoe leerders wat in hul moedertaalonderrig word, beter akademies presteer en ook ʼn geborgenheid voel teenoor hulle skool. Volgens die NSS-verslae het 686 skole Afrikaans Huistaal in 2021 aangebied en hierdie skole is oorwegend voorbeelde van moedertaalonderrig. In hierdie skole het 75 338 kandidate in 2021 matriek geskryf het. Die positiewe invloed van moedertaalonderrig op prestasie word bevestig deur die feit dat Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 84,9% behaal. Dit is 8,5% hoër as die nasionale gemiddeld.
Die kans om toelating te kry tot verdere studies, veral B-graadstudies, is baie groter in Afrikaanse skole. Nasionaal kry 36,4% van die suksesvolle kandidate toelating tot B-graadstudies. In teenstelling hiermee kry 58,2% kandidate in Afrikaanse skole toelating tot B-graadstudies. Dit is ’n styging van bykans 10% op die 48,7% kandidate in Afrikaanse skole wat in 2020 toelating tot B-graadstudies gekry het.
Die uitwerking van moedertaalonderrig op akademiese prestasie blyk duidelik uit die slaagsyfer van Afrikaansenkelmediumskole. Dié skole se slaagsyfer van 86,6% is 2,5% hoër as dié van veeltalige skole.
Nog ʼn area waar die voordeel van moedertaalonderrig duidelik te sien is, is in Wiskunde. Afrikaanse kandidate het in 2021 uitstekend in Wiskunde gevaar en 9,6% behaal ’n onderskeiding in dié vak. Dit is drie keer meer as die nasionale gemiddeld van 3,0%. Afrikaanse kandidate behaal 1 928 (24,9%) van die 7 725 onderskeidings in Wiskunde. Die prestasie is merkwaardig, aangesien kandidate in Afrikaanse skole slegs 8% van die totale getal Wiskunde-kandidate in die land verteenwoordig.
In Februarie maan die SOS die Afrikaanse gemeenskap om ’n bewustheid te skep dat moedertaalonderrig die ideaal is – die uitslae van Afrikaanse skole bevestig dit. Bevorder moedertaalonderrig daadwerklik in meer skole en gemeenskappe. Deur leerders se reg op moedertaalonderrig te verseker, word taal ’n draer van sosiale identiteit en positiewe waardes, wat gebalanseerde ontwikkeling en goeie akademiese prestasie moontlik maak