13 September 2023
President Cyril Ramaphosa het die voormalige Openbare Beskermer (OB), advokaat Busisiwe Mkhwebane ingelig dat sy uit haar pos verwyder is.
Ramaphosa het in ‘n skrywe gesê hy moet die stap neem na die parlement vroeër die week gestem het om haar uit die amp te verwyder.
318 lede het vir die verslag van die art. 194-komitee gestem, wat Mkhwebane se bevoegdheid as OB ondersoek het. 43 parlementslede het teen dit gestem, en een LP het buite stemming gebly.
Dit bring nou ‘n einde aan Mkhwebane se termyn in die pos. Sy het in reaksie op die besluit gesê dat die DA en die ANC hulle doelwit bereik het deur haar as OB te verwyder. Volgens haar wens sy dat die regering dieselfde deursettingsvermoë toon wanneer dit kom by die beëindiging van beurtkrag.
Die parlement moet nog stem oor wie die volgende Openbare Beskermer sal wees.
