29 Julie 2024
Die MK-party sê hulle is nie formeel van die opskorting van oud-president Jacob Zuma se ANC-lidmaatskap in kennis gestel nie, en dat selfs Zuma ook nie vooraf daaroor ingelig is nie.
Die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee het Zuma daaraan skuldig bevind dat hy die integriteit van die party in gedrang gebring het deur met die MK-party saam te werk.
‘n Woordvoerder van die MK-party Nhlamulo Ndhlela sê hulle is teleurgesteld oor die optrede van die ANC dat dié inligting op sosiale media uitgelek het voordat Zuma of sy verteenwoordiger by die tugverhoor – Tony Yengeni – in kennis gestel is van die besluit.
Volgens Ndhlela is die wyse waarop dié aangeleentheid hanteer is, ‘n oortreding van die grondwet. Hy meen die MK sal nie terugsit en toekyk hoe Zuma onreg aangedoen word nie.