Die Verkiesingshof sal vandag uitspraak lewer oor oudpresident Jacob Zuma se uMkhonto weSizwe-party se deelname aan die komende verkiesing.
Die ANC het `n aansoek gebring dat die MK-party gederegistreer word by die Onafhanklike Verkiesingskommissie en verbied word om aan die komende verkiesing deel te neem.
Die ANC voer aan dat dié party se aansoek vir registrasie van die hand gewys is omdat dit nie aan artikel 15 van die kieswet voldoen het nie.
Volgens advokaat Sesi Baloyi, wat namens die ANC optree, was die MK-party veronderstel om daarna `n nuwe aansoek by die OVK in te dien en nie `n aanvullende aansoek soos hulle het nie.
Baloyi het ook verder aangevoer dat MK ook nie die registrasie van die party in die Staatskoerant laat publiseer het nie.