25 Augustus 2023
Die VF Plus sê hy het die mislukte herstelprojek aan die R76 – tussen Kroonstad en Steynsrus – na die spesiale ondersoekeenheid verwys ná ʼn oorsigbesoek aan dié pad.

Herstelwerk aan die pad het in 2019 begin en moes aanvanklik September verlede jaar voltooi gewees het, maar die datum is uitgestel tot Junie vanjaar.
Die party se lid van die Vrystaatse Wetgewer, Armand Cloete sê dit het duidelik met die oorsigbesoek geblyk dat die padprojek eerder as ʼn vermorsing van geld beskou kan word.
Hy sê alhoewel die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer aangedui het dat daar reeds R271-miljoen aan die kontrakteur, Setrade BPK, oorbetaal is – is die werk nie voltooi nie en het die projek tot stilstand gekom.
Volgens Cloete is dele van die pad – wat wel herstel is – in so swak toestand dat die padoppervlak verbrokkel en tans ‘n veiligheidsrisiko vir motoriste is.
