Nuuskommentaar: 19 April 2022
Deur: Johnell van Vollenhoven
Suid-Afrika is nie ʼn mislukte staat nie. Dit is die mening van die minister van finansies, Enoch Godongwana. So het hy met vaste oortuiging verklaar in antwoord op Denis Joseph, DA-LP, se opmerkings en vrae.
Volgens Godongwana kan die staat steeds sy basiese funksies verrig en die mees basiese dienste lewer. Dit is dan waarom hy meen Suid-Afrika nie ʼn mislukte staat is nie. Maar ek wonder daaroor. In die stad en in sy woonbuurte voel ek redelik veilig. Ek het lopende water en elektrisiteit. Die vullis word verwyder, die kinders gaan skool en kos en ander lewensmiddele is maklik bekombaar.
My werklikheid is nie die werklikheid van derduisende Suid-Afrikaners in die platteland nie, om nie eens te praat van mense in informele nedersettings nie. Ek praat nie van eens pragtige dorpe wat vervalle in puin lê omdat infrastruktuur glad nie in stand gehou word nie of omdat die munisipaliteit doodeenvoudig nie sy rekeninge betaal nie. Krane is vir weke aaneen droog, inwoners moet self die riool hanteer en die skole lyk soos bouvalle, is oorvol en sit sonder die hulpbronne wat hulle benodig om leerders op te voed.
Waaraan meet ons dan of ons in ʼn mislukte staat leef, al dan nie? Tel ons hoeveel plekke en mense sonder die basiese geriewe oor die weg moet kom en weeg ons dit dan op teen die aantal wat “gelukkig” genoeg is om dit wel te hê?
Ek voel nie Suid-Afrika is noodwendig ʼn mislukte staat in die volle sin van die woord nie. Maar ek meen wel die staat het misluk deur sy onvermoë om die land in die geheel te dien en deur sy ideologiese obsessie met ras, beroof hy sy eie mense. Die staat toon geen insig in dít wat werklik op grondvlak aangaan nie. Die wil ontbreek om die werklikheid raak te sien en ʼn daadwerklike poging aan te wend om omstandighede te verbeter. Die staat vermors sy energie op die instel van sinnelose en onredelike regulasies en wetgewing terwyl sy amptenare stoei om meer beheer in hul hande te kry en nóg geld uit die staatskas in hul persoonlike sakke te steek.
Wat my die meeste bekommer is die ontkenning, die verswyging van probleme en die trae oplossings daarvoor wanneer die regering uiteindelik tot erkenning gedwing word. Suid-Afrikaners sien nie of daar gevolge is vir die optrede van korrupte staatsamptenare nie. Gewone Suid-Afrikaners voel nie of daar in hul beste belange opgetree word nie. Dit versterk die wantroue in die regering en alles wat hy sê.
Die feit dat die staat die laaste is wat foute wil erken, beteken dat hy nie sy verantwoordelikheid ernstig opneem nie. En dan voer hy hierdie ontkenning verder. Hy neem nog meer verantwoordelikheid van Suid-Afrikaanse burgers weg, ontneem hulle van seggenskap en plaas dit in sy eie hande sodat hy nog meer van sy misplaaste beheer kan uitoefen.
Hierdie werkswyse is strydig met die Grondwet. Die staat is nie die eienaar, toesighouer of baas van landsburgers nie. Die staat is die dienaar en die ondersteuner. Dit moet ruimte skep vir groei en ontwikkeling en moet dit nie aan bande lê en burgers soos stout kinders behandel nie. Hy moet sy kant bring. Hy moet infrastruktuur in stand hou, opgradeer en nuut bou waar nodig. Hy moet ophou om in te meng waar mense wel groei stimuleer en moet afstand doen van die idee dat ʼn regering van ʼn demokratiese land dieselfde is as dié van ʼn koninklike hof in die 1400’s.
Daar is wel mense wat nie wag dat die onbevoegde bevoeg word nie. Instellings, groepe en selfs individue het reeds talle maniere gevind om onafhanklik van die staat te word. Gemeenskappe leun nie meer op die staat nie. Hulle is sterk en hulle is onafhanklik. Hulle haal uit, bou, maak reg, hou in stand en floreer. Dit is sukses te midde van die uitdagings. Dit is juis daarom dat Suid-Afrika waarskynlik nooit werklik in ʼn mislukte staat sal ontaard nie, ten spyte van die ANC-regering wat so gruwelik misluk.