24 Januarie 2023
Afgevaardigdes van Eskom se bestuur en direksie het vandag `n voorlegging aan die Staande Komitee van Openbare Rekeninge (SKOOR) gedoen.
Die voorsitter van Eskom se direksie, Mpho Makwana, sê Eskom se opwekkingsvermoë is tans op 58% en behoort teen Maart op 64% te staan. Die internasionale norm is egter 86%.
Teen einde Maart behoort 1 862 MW terug op die netwerk te wees. Dit verteenwoordig ongeveer twee fases beurtkrag. Verder behoort Koeberg eenheid 1 teen einde Junie weer aanlyn te wees, maar eenheid 2 sal teen September vir 200 dae afgeskakel word.
Die uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter sê daar is steeds misdadige aktiwiteite by Eskom. Hy het spesifiek verwys na Tutuka en die Camden-kragstasie. By laasgenoemde is `n vragmotor wat lae gehalte steenkool vervoer het voorgekeer.
Die vragmotorbestuurder het die sekuriteitswagte R50 000 omkoopgeld aangebied maar is in hegtenis geneem. Die Ermelo Landroshof het geweier om die saak te hanteer. Dit is oorgeplaas na die Belfast Landroshof waar die verdagte vrygelaat is.
De Ruyter sê verder dat hulle besig is om die uitstaande skuld van munisipaliteite te besnoei. Dié skuld beloop tans R57-miljard. Eskom lê tans beslag op munisipaliteite se roerende bastes of bankrekeninge omdat hulle nie dieselfde roete kan volg as met groot industriële kliënte waar hulle die krag afsny nie.