14 Mei 2021
Die minister van polisie, Bheki Cele het die kwartaallikse misdaadstatistiek bekend gemaak.
Dié statistiek bevat inligting oor misdade, wat tussen 1 Januarie 2021 en 31 Maart gepleeg is. Suid-Afrika was toe onder vlak 3 en vlak 1 van die staat van inperking.
Hy het sy voorlegging begin deur die moord op polisielede as ’n krisis te bestempel. Volgens Cele is 24 polisiebeamptes in die eerste drie maande van vanjaar vermoor.
Altesaam 4 976 mense is gedurende dié tydperk in Suid-Afrika vermoor. Dit is 387 méér moorde as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Volgens hom was daar in die kwartaal 11 moorde op plase en kleinhoewes aangemeld – vier daarvan was plaasbewoners, vier was boere en twee was werknemers. Een was ’n veiligheidswag.
Cele sê daar was ’n 8,5%-afname in kontakmisdaad, hoewel moord en poging tot moord met onderskeidelik 8,4% en 8,7% toegeneem het. Tussen 1 Januarie en 31 Maart is 9 815 verkragtings aangemeld.