24 Augustus 2023
Die polisievakbond, Popcru, sê hy glo nie dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistiek akkuraat is nie.
Die vakbond meen die insameling en interpretasie daarvan is verkeerd en dat statistiek in der waarheid baie erger is en eis dat die stelsel opgeknap word.
Popcru hou tans sy eerste polisiëringsindaba wat ten doel het om wetstoepassing te verbeter.
Popcru se president, Zizamele Cebekhulu-Makhaza, sê die syfers klop nie met die realiteite wat deur polisielede en gemeenskappe in die gesig gestaar word nie.
Dit kom nadat die misdaadstatistiek verlede week bekend gemaak is. Tussen April en Junie 2023 het moord op vroue met 4,7% toegeneem, poging tot moord met 20,2% en ernstige aanranding met 9,7%.
Die situasie is selfs erger wat kinders aanbetref. Net teenoor verlede jaar het moord op kinders toegeneem met 20,6% en poging tot moord met 15,3%.
Plaasmoorde het ook skerp toegeneem met 14 moorde vanjaar teen 10 in dieselfde kwartaal verlede jaar.
Die algemene syfers fluktueer en sommige kategorieë wys wel ʼn effense afname soos moord (3,1%), seksuele oortredings (2%) verkragting (2,8%), motorkaping (6,4%) en rooftogte by ondernemings (14%).
Die afname in motorkapings en rooftogte by ondernemings, wat deel vorm van die gevreesde trio-misdaagroep, moet verwelkom word. Die derde, rooftogte by woonhuise, is egter op met 4,9% teenoor 2022.
Waar moord en verkragting effens afgeneem het, was daar ʼn skerp toename in al die ander geweldsmisdade. Dit sluit in poging tot moord (7%), ernstige aanranding (8,2%) en roof (7,9%)
Verlede jaar is 27 066 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika.
