2 Desember 2022
Die departement van openbare werke en infrastruktuur het dertien kragopwekkers by ministers se huise vervang, met meer wat nog aangekoop moet word.
Dit het aan die lig gekom tydens ‘n parlementêre vraag-en-antwoordsessie.
Volgens die departement is dié dertien opwekkers vervang weens oortolligheid en die feit dat die ou kragopwekkers te duur is om in stand te hou.
Die departement het sedert 1 Julie vanjaar nagenoeg R800 000 bestee om die kragopwekkers te laat loop.
Wat die bedryfskoste betref het dit van net minder as R32 000 verlede jaar tot R1,4-miljoen – tot dusver vanjaar – gestyg.
Die kragopwekkers is geïnstalleer om ministers en adjunkministers te beskerm teen beurtkrag by hul private huise aangesien hulle ampswonings reeds van beurtkrag kwytgeskeld is.