Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende

Minister van elektrisiteit: Van meet af in omstredenheid gehul

Nuuskommentaar: 24 Februarie 2023

Deur: Dr. Eugene Brink

In sy vyfde staatsrede het pres. Cyril Ramaphosa ’n skynbaar groot aankondiging oor elektrisiteit gemaak: Die aanstelling van die minister van elektrisiteit.

Tot op hede is daar steeds nie ’n minister van elektrisiteit aangestel nie. Daar sou verwag word dat Ramaphosa iemand in gedagte sou hê voordat hy die aankondiging maak. Daar is na alle waarskynlikheid ’n kabinetskommeling op pad en die minister van elektrisiteit sal na verwagting deel van die nuwe skuiwe wees, maar die president talm selfs daarmee.

Dan is daar die keuse, magte en posisionering van hierdie minister. Wie van die huidige ANC-hooggeplaastes is vars, vaardig en uniek genoeg om só ’n pos op te neem? Dit kan sekerlik nie ’n vorige of huidige kabinetsminister wees nie, want onder hulle het beurtkrag juis versleg – en hierdie nuwe pos is kwansuis daarop gerig om beurtkrag te verminder. Sal daar in die privaat sektor vir só ’n persoon gesoek word, terwyl hulle terselfdertyd ook ’n nuwe bedryfshoof en hoof- uitvoerende beampte vir Eskom wil aanstel nadat Jan Oberholzer en Andre de Ruiter bedank het? Dit is sterk te betwyfel dat baie bevoegde mense in die privaat sektor bereid is om sulke poste op te neem na aanleiding van hoe stief De Ruiter behandel is. En sal die regering werklik enigiemand, ongeag ras of enige ander empiriese kriteria, aanstel in hierdie poste? Dit is hoogs onwaarskynlik.

Daar is ook nog nie sekerheid oor hierdie persoon se magte en posisionering nie. Die pos sal skynbaar in die presidensie geleë wees en slegs op beurtkrag gefokus wees. Daar was aanvanklik sprake dat Gwede Mantashe se portefeulje tussen minerale en energie geskei sou word en iemand anders dan op energie – waarvan kragopwekking ’n kardinale deel is – sal konsentreer. Dit sal egter ’n soort ondermyning van Mantashe se mag wees en ’n simboliese hou vir iemand wat Ramaphosa gered het in Desember toe die Phala-Phala-skandaal hom amper in aanloop tot die ANC se nasionale verkiesingskonferensie gekelder het.

Mantashe maak reeds die nuwe pos van minister van elektrisiteit af as bloot ’n “projekbestuurder” en lyk nie regtig lus vir samewerking nie. Hy is bowendien immers steeds minister van minerale én energie. Dan is daar boonop ook nog die tamaletjie dat Pravin Gordhan die minister van openbare ondernemings is en dus nominaal vir Eskom verantwoordelik is. Daar was reeds wrywing tussen Mantashe en Gordhan oor wie watter rol moet vervul ten opsigte van Eskom en kragopwekking. Daar kom dus nou nog ’n rolspeler by met bepaalde take en doelwitte wat deur sy kollegas en Eskom se nuwe bestuur in die wiele gery kan word. Sal die nuwe minister moeilike besluite kan neem wat met sy kollegas s’n bots en wie se kant sal Ramaphosa uiteindelik kies in die geval van botsende besluite? Met al die binnegevegte in die ANC is dit nie moeilik om te sien hoe verdere verlamming die energiesektor se voorland gaan wees nie.  

Die probleem bly egter dat hierdie indiwidu in die ANC se dogma en die beperkinge van die huidige werklikhede wat die staat en ekonomie betref, vasgevang sal wees. Dit kan egter nie ’n probleem wees nie, want die hele aankondiging – tesame met die ramptoestand – kan blote oëverblindery wees om nog tyd tot die volgende verkiesings te wen en boonop korrupsie makliker kan laat geskied. Intussen moet gemeenskappe, huishoudings en besighede solank begin werk om selfstandig van die staat te raak wat elektrisiteit betref, want geen minister gaan beurtkrag oplos nie.      

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

GRVyh6TbEAAnjIT

Omstrede vroedvrou ontken aanklagtes teen haar

CYRIL IVOOR

“49 Vlugtelinge word nie sleg behandel in SA nie,” sê Ramaphosa

Cyril-4-1

Nuusbrief: “Suid-Afrika speel ‘n belangrike rol in die transformasie van Afrika se ekonomie”

Tiger Brands beverage manufacturing facility in South Africa

Voedselprodusent maak skikkingsaanbod na 2017 se listeriose-uitbreking

GquJsHhXAAAiYuq

AfriForum ondersteun 49 Suid-Afrikaners se besluit om ‘n “beter lewe in die VSA te soek”

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-05-13 105216
68-jarige vrou deur olifant in Krugerwildtuin doodgetrap
Screenshot 2025-05-13 091435
49 Suid-Afrikaners in die VSA verwelkom
Repliek
Van Wiskunde tot werk
GRVyh6TbEAAnjIT
Omstrede vroedvrou ontken aanklagtes teen haar
CYRIL IVOOR
“49 Vlugtelinge word nie sleg behandel in SA nie,” sê Ramaphosa

Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende