22 Junie 2023
Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het teen die Suid-Afrikaanse media uitgevaar omdat daar gefokus is op die fiasko oor die vliegtuig wat die afgelope naweek in Pole gestrand was in plaas daarvan om ‘n positiewe storie te skryf oor die Rusland-Oekraïne vredesending wat deur president Cyril Ramaphosa gelei is.
Ntshavheni sê dit is onwaarskynlik dat die regering joernaliste weer op soortgelyke vlugte sal saamnooi.
Die minister het na afloop van ‘n kabinetsvergadering gesê die weiering van Poolse owerhede om Suid-Afrikaners in dié land toe te laat kan nie as “aanhouding” beskou word nie, selfs al is joernaliste en veiligheidspersoneel vir 26 ure verbied om die vliegtuig te verlaat.
Sy het joernaliste daarvan beskuldig dat hulle gefokus het op – wat sy genoem het – ‘n klein kwessie van ‘n vliegtuig wat by die Chopin Internasionale Lughawe in Warskou gestaan het ondanks die vrygewigheid van die regering wat hulle saamgeneem het.
Die kwessie van die gestrande vliegtuig vol wapens het die naweek wêreldnuus geword, met vrae wat gevra is of Suid-Afrika behoorlike prosesse gevolg het.
