Die minister van vervoer,Barbara Creecy, het ’n omvattende herstel- en beleggingsplan vir Suid-Afrika se vervoerstelsel aangekondig.
Sy sê die druk van 690 000 agterstallige rybewyskaarte sal binnekort verlig word nadat die stukkende drukmasjien herstel is.
In die lugvaartsektor sal die Lughawens Maatskappy van Suid-Afrika, ACSA, R21,7-miljard belê om passasiersgerief, vragvermoë en veiligheid te verbeter.
’n Nuwe vragterminaal word ook by die OR Tambo lughawe in Johannesburg gebou.
Creecy het verder bevestig dat 35 van PRASA se 40 pendeltreinroetes teen Mei herstel is. Meer as 77-miljoen passasiers het in die afgelope jaar van die diens gebruik gemaak, en 116-miljoen word teen 2026 verwag.
Creecy meen die doel is ’n veilige, bekostigbare en geïntegreerde vervoerstelsel teen 2030, met minder padsterftes en meer privaatsektorvennootskappe in vragvervoer.