7 Maart 2022
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n hofbevel bekom wat Barbara Creecy, minister van bosbou, vissery en omgewingsake se besluit om ’n omstrede mynaansoek te hersien, tersyde stel.
Dié aansoek is reeds in 2019 ingedien om digby die Nasionale Krugerwildtuin te myn.
AfriForum het hierdie aansoek gebring aangesien die mynmaatskappy, Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. ’n appèlproses begin het nadat die departement van minerale bronne en energie Manzolwandle Investments se mynaansoek afgekeer het.
Die bestuurder van omgewingsake by AfriForum, Lambert de Klerk sê Creecy het egter die mynmaatskappy se appèlaansoek vir die hersiening van die besluit goedgekeur. “Die minister het haar besluit geneem op inligting wat nie die waarheid weerspieël nie. AfriForum, wat in dié aansoek as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer is, is nooit in die saak geken nie, verduidelik De Klerk.
Volgens die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) se appèlproses moes die organisasie asook al die ander belanghebbende en geaffekteerde partye in die besluit en proses geken word.
Volgens De Klerk is hierdie ’n groot oorwinning, maar die stryd is nog glad nie verby nie. “Dit het ook aan die lig gekom dat Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. wat Manzolwandle Investments volgens die organisasie se inligting oorgekoop het, ook ’n aansoek ingedien het om in die gebied te myn. Dié aansoek stem ooreen met vorige aansoeke waarin heelwat ongerymdhede en prosedurele gebreke voorkom.”
Hy sê AfriForum sal dié aansoek teenstaan.