12 April 2023
Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza het ‘n petisie met 139 000 handtekeninge ontvang van mense wat vra vir ‘n verbod op pitbulls as troeteldiere.
Die Sizwe Kupelo-stigting het die petisie begin nadat ‘n 10-jarige kind in 2022 in Nelson Mandelabaai deur sy familie se twee pitbull-honde doodgebyt is.
Didiza het tydens die ontvanging van die petisie gesê dat die regering uiters bekommerd is oor sterftes en beserings weens pitbull-aanvalle.
Sy sê die regering heroorweeg tans wetgewing om die kwessie onder die loep te neem. “Ons kyk ondermeer na die DNS-samestelling van pitbulls, en of dit moontlik die oorsaak van die honde se aggressiewe gedrag kan wees.”
Volgens Didiza werk die Pitbull-vereniging van Suid-Afrika (PBFSA) en die Sentrum van Toegepaste Troeteldier-etologie (COAPE) saam met die regering om ‘n taakspan te vorm.
Foto: Hospital Veterinario Glories.