27 Januarie 2022
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, sê hy is verstom oor die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, se besluit om die Sedibeng Waterraad in Bothaville te ontbind.
Volgens AfriForum se bestuurder van omgewingsake, Lambert de Klerk, lê die oorsaak van die probleem by die munisipaliteite wat nie die raad betaal vir die water wat gelewer word nie, terwyl die inwoners op hul beurt wel die munisipaliteite betaal.
Volgens De Klerk trek die inwoners en die waterraad gevolglik aan die kortste end weens munisipaliteite se wanbetaling.
“AfriForum is bekommerd dat ’n waterraad – wat al vir 43 jaar bestaan – ontbind word en die vraag moet gevra word of die minister elke waterraad gaan ontbind as hulle begin swaar trek, in plaas daarvan om die munisipaliteite vas te vat,” sê De Klerk.
Hy sê deur dié besluit te neem plaas die minister ook baie meer druk op Bloem- en Magalies Water wat ook reeds swaarkry weens wanbetaling deur die munisipaliteite.