17 Junie 2021
Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane sê dit is nodig dat massa-toetsing vir Covid-19 weer in Gauteng gedoen moet word.
Dit nadat daar in die afgelope 24 uur 5 433 nuwe Covid-19-gevalle in die provinsie aangemeld is. Die meeste van dié nuwe gevalle (1 972) is in Johannesburg, gevolg deur 1 714 in die Tshwane-metro en 1 027 in Ekurhuleni.
Kubayi-Ngubane het vroeër vandag die portefeuljekomitee oor gesondheid op hoogte gebring van die derde golf van Covid-19-infeksies, wat tans in die land voorkom.
Sy sê sy het onlangs met al die LUR’e vir gesondheid in al die provinsies vergader en meen hulle hou die situasie in hulle onderskeie departemente dop.
“Ons monitor deurgaans die beskikbaarheid van hospitaalbeddens en van voorrade soos suurstof, ensomeer,” sê die minister.
Kubayi-Ngubane het opnuut ‘n beroep op mense gedoen om die gesondheidsmaatreëls na te kom, soos om gesigmaskers te dra en ontsmettingsmiddels te gebruik.