8 September 2022
Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza het die landswye verbod op die vervoer van beeste opgehef.
Sy het die verbod op 16 Augustus ingestel en het aanvanklik gesê dat dit 21 dae sou duur. Die doel van die verbod was om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer te stuit.
LEES OOK: LUISTER: MINISTER PLAAS VERBOD OP DIE VERVOER VAN BEESTE TE MIDDE VAN BEK-EN-KLOUSEER
Volgens Didiza het veeartse, landbou-organisasies en ander diere-organisasies se werk oor die afgelope drie weke dit moontlik gemaak vir die departement om die verbod te kon lig. Die provinsies, wat veral erg geraak is deur bek-en-klouseer, die Oos-Kaap, Wes-Kaap en die Noord-Kaap het in die afgelope 21 dae geen nuwe gevalle van die siekte aangemeld.
In Gauteng en Noordwes was daar vermeende gevalle van die siekte, maar dit is onmiddellik onder die loep geneem. Ook in Mpumalanga is geen nuwe gevalle aangemeld nie.
LEES OOK: “VERBOD OP DIE VERVOER VAN BEESTE: TE VINNIG TE VEEL,” SÊ ACTIONSA
In Limpopo, KwaZulu-Natal en die Vrystaat is daar sommige gebiede wat erger geraak word, maar bestuurspanne werk noukeurig daar om dit onder beheer te neem.
Didiza sê in gebiede waar nuwe gevalle steeds aangemeld word – Limpopo, KZN en die Vrystaat sal daar streng maatreëls geld wanneer beeste vervoer word.