11 November 2021
Die minister van finansies, Enoch Godongwana het vanmiddag tydens sy mediumtermynbegrotingsrede gesê dat daar nié meer hulppakkette aan staatsentiteite gegee sal word sonder goeie rede nie.
Tydens sy vuurdoop het Godongwana gesê die staat sal die beursie styf toehou wanneer dit by instellings kom wat in die verlede bakhand by die tesourie gestaan het. Die wapenvervaardiger, Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Eskom is maar net drie van die instellings wat reeds miljarde-rand in die vorm van hulppakkette van die staat gekry het.
Denel het R2,9-miljard van die regering gekry om sy skuld te vereffen terwyl die SAL R21-miljard – net in die laaste boekjaar – gekry het.
Die kragvoorsiener, Eskom hou ‘n twee-ledige bedreiging in deurdat dit die ekonomie lamlê met beurtkrag terwyl dit steeds miljarde-rand van die staat kry weens wanbetaling van gebruikers en grootskaalse korrupsie.
Intussen het die minister ook aangedui dat die regering volgende jaar in die nasionale begroting die maatskaplike veiligheidsnet gaan aanpas, en selfs wyer kan uitgooi.
Godongwana het melding gemaak van die R350 maatskaplike toelae wat tans uitbetaal word aan nagenoeg 9,5-miljoen Suid-Afrikaners – as deel van die hulppakket om die invloed van die Covid-19 inperkings te probeer versag.
Die uitbetaling van dié toelaes loop in Maart 2022 ten einde en die regering is van die linkerkant van die politieke spektrum onder druk om die uitbetaling van dié toelaes te verleng – en selfs permanent in te stel en die bedrag te verhoog.
Die minister het genoem dat byna 28-mijoen mense – wat ongeveer 46% van die bevolking verteenwoordig – die een of ander vorm van toelaag van die staat ontvang.
Stem vir die Aitsa’s