10 Desember 2021
Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla sê die Omikron-variant is nou in 57 lande aangemeld en dat dié variant die vierde vlaag van die Covid-19-virus in Suid-Afrika dryf.
LEES OOK: SKOOR: MINDER AS DIE HELFTE VAN ONDERSOEKE OOR COVID-19-KORRUPSIE AFGEHANDEL
Die departement het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou oor die Covid-19 situasie in die land. Volgens Phaahla het die weeklikse nuwe gevalle in Gauteng met 400% gestyg en die aantal hospitalisasies met 200%.
Hy sê navorsing toon dat 70% van die nuwe gevalle wat aangemeld word waarskynlik die Omikron-variant is. “Dit sal nog lank neem om te bepaal hoe siek Omikron mense maak, maar navorsing toon dat dié variant 2,5 meer mense aansteek.”
Phaahla sê 70% van mense in hospitale, wat waarskynlik die Omikron-variant onder lede het, is nié ingeënt nie. Hy sê egter dat alle aanduidings toon dat mense, wat in hospitale opgeneem is, nie so ernstig is nie.
“Hoewel navorsing nog nie afgehandel is nie, toon voorlopige toetse dat mense wat ingeënt is, wel baie beter beskerm word. Die bestaande entstowwe se beskerming blyk ook om nog baie sterk teen Omikron te wees.”
LEES OOK: NIOS: JONG MENSE DRYF TOENAME IN COVID-19-GEVALLE
Phaahla sê ongeveer 27-miljoen entstofdosisse is tot dusver toegedien, met meer as 43% van die volwasse bevolking wat reeds ingeënt is. Volgens hom is sy departement se grootste bekommernis egter om meer mense in die ouderdomsgroep van 18 tot 35 jaar oud te kry om hulle te laat inent.