14 April 2023
Die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, sê die land het nog nie ‘n sent gesien van die meer as R33-miljoen wat belastingbetalers opgedok het vir die ongerigistreerde medisyne wat tydens die Covid-pandemie van Kuba af bestel is nie.
Modise het gereageer op ‘n vraag wat deur die DA-LP, Kobus Marais gestel is.
Marais wou onder andere van haar weet waarom sy vroeër gesê het dat die departement geen verliese gelei het weens die aankope nie, terwyl die ouditeur-generaal en háár departement bevind het dat die verkryging daarvan onreëlmatig was.
Modise wou nie sê of sy magtiging sal gee dat die uitstaande bedrag van die betalings ingevolge die Thusano-projekkontrakte afgetrek sal word nie en sê dit sal volgens die voorgeskrewe raamwerk vir onreëlmatige uitgawes van die tesourie hanteer word.
Die weermag het in 2020 ‘n middel – wat nie deur die medisyne-beheerraad goedgekeur is nie – ter waarde van nagenoeg R260-miljoen van Kuba aangekoop en is later deur die hof gelas om dit terug te stuur.