Nuuskommentaar: 7 Julie 2022
Deur: Natasha Venter
Met die onlangse aankondiging in Rapport dat beamptes van die Tshwane Metropolisie met lyfkameras toegerus gaan word om omkopery en aanrandings te probeer verhoed, het die vraag ontstaan oor hoe ons as samelewing tot op hierdie punt gekom het.
Eerstens moet die optrede van metropolisiebeamptes wat hul posisies van mag misbruik om mense te intimideer en af te pers ten sterkste veroordeel word. Dit is ’n blatante boelie-taktiek wat vir onskuldige mense onnodige trauma en posttraumatiese stres veroorsaak. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het al met verskeie slagoffers gekonsulteer wat erge trauma moes deurmaak as gevolg van misdadige metropolisiebeamptes. Een só slagoffer het byvoorbeeld vertel hoe sy haarself geestelik moes voorberei op verkragting nadat manlike beamptes met haar weggejaag en rondgery het. In só geval, asook vele ander, was hier geen omkopery nie, maar openlike afpersing en ontvoering.
Dit is juis hierdie tipe optrede wat Stad Tshwane met die gebruik van lyfkameras wil verhoed. Daar word egter voorgestel dat streng boetes gehef (en afgedwing!) moet word vir beamptes wat op een of ander manier hierdie voorsorgmaatreëls probeer ontduik.
Hoewel daar nooit versagtende omstandighede vir die misdadige optrede van wetstoepassers kan wees nie, is dit, soos met alle sosiale euwels, egter ook nodig om hand in eie boesem te steek en die samelewing se aandeel in die huidige stand van sake te ondersoek. Die wetgewing in Suid-Afrika maak dit duidelik dat beide die ontvanger, sowel as die verskaffer van enige voordeel wat neerkom op korrupsie, aan daardie misdryf skuldig is – ongeag wie aanvanklik die voorstel van die pleeg van die daad gemaak het.
Dit is dus ’n gegewe dat motoriste wat enige voordeel aanbied (of deur die aanvaarding van ’n aanbieding van die beampte) om ’n bepaalde gevolg (soos ’n boete) te ontduik, skuldig is aan die pleeg van korrupsie. Daar kan aangevoer word dat die endemie van korrupte metropolisiebeamptes wat die samelewing tans in die gesig staar, ten dele gekweek is deur sekere lede van die samelewing wat bereid was/is om nadelige gevolge te laat verdwyn deur korrupsie te pleeg. Die gevolge wat hieruit gespruit het, moet nou hanteer word. Natuurlik wil geen ouer hê dat ’n student wat vêr van die huis af is, dronk bestuur het en nou met toesluiting gedreig word, in die selle moet oornag nie. (Dit hou uit die aard van die saak beduidende veiligheidsrisiko’s in en in sulke gevalle word die omkoopbedrag gewoonlik betaal.)
’n Aspek wat miskien te min aandag kry is die onwilligheid van slagoffers om hulself beskikbaar te stel om as getuies teen die skurke in uniforms op te tree. Dit het duidelik geword dat die onwilligheid om te doen wat reg is die TMPD se hande om dissiplinêr of strafregtelik teen beamptes op te tree, tot ’n mate afkap. Die beamptes besef dít en gaan ongestoord voort met hul misdadige optrede. Dit moet egter bygevoeg word, dat in die enkele gevalle waar daar wel bereidwillige klaers is, die strafregstelsel die slagoffers gewoonlik in die steek laat.
Die feit bly staan dat die penarie, ten dele as gevolg van ’n aanvanklike gewilligheid om die verkeersreëls te oortree en omkoopgeld te betaal om die gevolge daarvan vry te spring, nou tot sulke vlakke geëskaleer het dat onskuldige mense daaronder ly. Beamptes is in sekere gevalle selfs bereid om die sogenaamde blaastoets te manipuleer om iets te hê om motoriste mee af te dreig.
Kan die situasie beredder word? Die Stad Tshwane se implementering van die moniteringskameras is wel ’n tree in die regte rigting. Indien dit korrek geïmplementeer en afgedwing word en as daar daadwerklike gevolge vir oortreders is, kan dit werk. Die plig berus egter ook by ons as die samelewing om verkeersreëls te gehoorsaam en onsself nie aandadig te maak aan korrupsie nie.
Kortom, kan die probleem deur die gemeenskap opgelos word die deur middel van twee eenvoudige stappe:
- Moenie omkoopgeld aanbied of betaal nie.
- Wees bereid om te getuig teen die skurke in uniform. Die lyfkameras sal bloot getuies se getuienis kan bevestig.