24 April 2024
Die DA in die eThekwini-metro het sy kommer uitgespreek oor dié metroraad se besluit om R200 000 te bestee om ‘n funksie aan te bied waar hy sal aankondig watter nie-regeringsorganisasies befondsing van dié metroraad gaan kry.
’n Verslag oor die aangeleentheid het aan die lig gebring dat die raad nagenoeg R5-miljoen gaan bestee aan die finansiering van verskillende organisasies wat in Durban en omgewing werksaam is.
Die R200 000 vir die funksie sal dan bykomend tot die R5-miljoen rand begroot word.
Die DA se Thabani Mthethwa het sy kommer hieroor uitgespreek en sê dat hy nie kan verstaan waarom daar so baie geld aan ‘n uitspattige geleentheid bestee moet word – terwyl iemand in ‘n kantoor net ‘n telefoon kan optel en die betrokke organisasies van die metro se besluit inlig nie.
Foto: SABC