7 Desember 2023
Die Tshwane-metro se omgewingsbestuursdepartement het aangekondig dat hy tans nuwe erwe identifiseer vir nog begraafplase om in die toekoms ontwikkel te word.
Dit kom nadat die departement aangekondig het dat hy in 2024 die Ga-Rankuwa en Mabopane-begraafplase gaan sluit. Volgens onlangse impakstudies is daar nie meer spasie nie, en moet ander planne gemaak word.
Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo sê by beide begraafplase sal die metro voorsiening maak vir liggame wat elders begrawe moet word, asook grafstene wat weer opgerig moet word.
Mashigo sê die Mabopane begraafplaas sal of aan die einde van Januarie of einde Februarie toemaak, terwyl die Ga-Rankuwa begraafplaas tot einde Maart 2024 oop sal bly.
Die Klip-Kruisfontein begraafplaas sal vir tyd en wyl alle begrafnisse akommodeer, wat in Ga-Rankuwa en Mabopane moes plaasvind.