22 Februarie 2024
“Dit is moeilik om die storie te moet herleef, veral dié jaar omdat dit 30 jaar is sedert die tragedie. Ek wonder waar sou Tian gewees het, wat sou van hom geword het.”

Vandag 30 jaar gelede op 22 Februarie 1994 het die wal van die Merriespruit-slikdam in Virginia, in die Vrystaat gebreek en groot dele van die dorp in modder bedek. 17 mense, insluitend ‘n nege maande oue baba het daardie dag hulle lewens verloor.
Nagenoeg 80 huise is totaal platgevee. Almari Visser en haar man, Thys se huis was die vierde huis vanaf die damwal.
Almari het aan Anton Meijer en Elsa Esterhuizen vertel van die oomblik toe die modder hulle huis se mure platgeslaan het. Die egpaar se nege maande oue babaseuntjie, Tian was in haar arms. Sy het egter haar greep op hom verloor toe die modder die gesin meesleur.

Almari het die tragedie oorleef, maar moes later uitvind dat haar man, Thys dood is nadat hy ‘n boom getref het. “Ek het geweet Tian is dood, hy sou dit nie kon oorleef nie. Ek wou net gehad het dat hulle Tian se liggaam moes vind.”
Ek het nie geweet hoe ek ooit sou opstaan nie, maar ‘n mens moet opstaan. “Ek is die een wat oorleef het, die Here het duidelik ‘n doel met my lewe.”
‘n Ondersoek na die tragedie het bevind dat ‘n menslike fout en swak beplanning tot die tragedie gelei het.