10 Mei 2021
Die DA het vanoggend die verhoor van die rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Wim de Villiers voor die Menseregtekommissie bygewoon.
Die MRK het die US vandag besoek nadat die DA vroeër klagtes aanhangig gemaak het oor bewerings dat studente in koshuise, op kampus en selfs op Whatsapp glo verbied word om in Afrikaans te kommunikeer, en met boetes gedreig word indien hulle Afrikaans sou praat.
Vanoggend se sitting is die eerste een in die MRK se ondersoek na die bewerings.
Die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, dr. Leon Schreiber sê alhoewel De Villiers tien prokureurs en amptenare saamgebring het na die verhoor, het hy glo steeds geweier om antwoorde te verskaf oor die huidige taabeleid.
Volgens Schreiber het De Villiers tydens sy getuienis bevestig dat hy die 2016 taalbeleid – waaronder Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal aan die US afgeskaf is – as “besonders suksesvol” beskou.
Hy sê De Villiers het ook versuim om antwoorde aan die MRK te verskaf oor ‘n aantyging dat hy na bewering in 2015 aan ‘n US-raadslid gesê het dat die universiteit maar net ten volle moet verengels omdat dit die “maklikste opsie” sou wees.
De Villiers het wel tydens dié sitting gesê dat bewerings onwaar is dat studente verbied word om Afrikaans te praat.
Volgens hom het die US die taalkwessie by die koshuise Minerva, Irene en Huis Francie van Zijl op die Tygerbergkampus intern probeer oplos die oomblik toe hy daarvan bewus geword het.