14 April 2021
Die Suid-Afrikaanse Menseregte-kommissie besoek vandag die Mbilwi Sekondêre skool in Thohoyandou in Limpopo nadat ‘n video versprei is waarin twee graad 10-leerlinge in ‘n woordewisseling betrokke raak en die een meisie dan die ander een herhaaldelik klap.
Die voorval het glo Maandag gebeur, waarna die meisie dood is. Die departement van onderwys in Limpopo het in ‘n verklaring gesê dat die meisie na bewering haar eie lewe geneem het na die voorval.
Die MRK sê in ‘n verklaring dat volgens die kinderwet kan boeliegedrag as ‘n vorm van aanranding beskou word.
Die kommissie sê die doel van hul besoek is om meer inligting by mekaar te maak en om bewustheid te skep oor die belangrikheid van kinderregte.
Intussen sê die organisasie, Parent Power – wat daarin poog om ouers te ondersteun – dat kinders se welstand en die einde aan boeliegedrag nié net ouers en onderwysers se verantwoordelikheid is nie, maar ook die van skoolbeheerliggame.
Die projekleier by Parent Power, Andisiwe Hlungwane sê die tipe gedrag vind nie net in Limpopo plaas nie, maar reg oor die land.
Sy meen afknouery – fisies en emosioneel – is ‘n baie ernstige kwessie wat nié geïgnoreer kan word nie.