14 Maart 2023
Die Gautengse polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela het vanoggend die provinsie se misdaadstatistiek vir die derde kwartaal bekend gemaak.
Hy sê die derde kwartaal (1 Oktober 2022 tot 31 Desember 2022) was ‘n besige kwartaal ten opsigte van misdaad, omdat die feestyd binne dié tydperk val. Dit is ook die eerste feesseisoen in twee jaar sonder enige Covid-19-beperkings.
Kontakmisdade, het gedurende die tydperk oor die algemeen met 8,3% toegeneem. In hierdie drie maande is 1721 moorde gepleeg, ‘n toename van 9,6%. Seksuele misdrywe het met 3,7% toegeneem, 16,3% meer gevalle van poging tot moord is aangemeld. Ook aanranding met die doel om ernstig te beseer, algemene aanranding, diefstal en diefstal met verswaarende omstandighede het toegeneem.
Ten opsigte van seksuele misdrywe het verkragting met 4,9% toegeneem, terwyl seksuele aanranding met 0,7% afgeneem het. Volgens Mawela het motorkapings met 6,8% afgeneem. Diefstal by wonings en besighede het onderskeidelik met 6,9% en 3,0% toegeneem. 22,7% méér transitorooftogte is gedurende die tydperk aangemeld.
