17 April 2024
Indringende vrae word gestel oor die verslagdoening van skoliere in die Vrystaat se prestasie nadat skokkende uitslae behaal is deur dié provinsie se leerders in ‘n nasionale evalueringstoets.
Terwyl die Vrystaat die afgelope vyf jaar reeds die beste matriekslaagsyfer verklaar, het die oorgrote meerderheid van sy graad-8 en graad-9 leerlinge in die eerste kwartaal van vanjaar nie die mas opgekom nie.
Volgens uitslae wat dié provinsie se onderwysdepartement op die Suid-Afrikaanse Skooladministrasie- en Bestuurstelsel gelaai het, het 83,5% van die graad-8-leerlinge nie die eerste kwartaal se evaluering in Maart geslaag nie.
76,8% van die graad-9-leerders het dié kwartaal hulle toetsreeks gedruip.
Die betrokke bestuurstelsel waarop die inligting gelaai is, is ‘n nasionale regeringstelsel wat dit ten doel het om skole by te staan met hul eie skooladministrasie en verslagdoening, en is ook ‘n bewaarplek van toets- en eksamenuitslae.