27 Junie 2024
Minstens 568 mense is gedurende die afgelope ses dae, weens ’n hittegolf in Pakistan dood.
Volgens die BBC is dit in hierdie stadium te vroeg om te sê wat die presiese oorsaak van dood in elke geval was.
Die sterftes volg egter terwyl verslae toon dat temperature in die stad Karatsji in die Sindh-provinsie tot bo 40 grade Celsius gestyg het, met hoë humiditeit wat dit so warm soos 49 grade Celsius laat voel het.
Mense het glo ook na hospitale gestroom vir hulp.
Die owerhede in Karatsji het mense versiek om binnenshuis te bly, genoeg water te drink en nie onnodig te reis nie.
Die hittegolf – wat al in Mei begin het – sal volgens weervoorspellers volgende week bedaar.