31 Oktober 2023
Die minister van staatsdiens en administrasie, Noxolo Kiviet het in antwoord op ‘n parlementêre vraag bevestig dat daar 417 staatsamptenare is wat geskors is, máár hulle ontvang stééds hulle salarisse.
Volgens Kiviet het die salarisse van die 417 geskorste staatsamptenare in die eerste kwartaal van vanjaar R120-miljoen beloop.
Nasionale staatsdepartemente het R31-miljoen aan geskorste amptenare betaal, terwyl geskorste amptenare provinsiale staatsdepartemente R93-miljoen uit die sak gejaag het. KwaZulu-Natal is die provinsie met die meeste geskorste amptenare, wat die provinsie R34-miljoen gekos het.
Die dae wat amptenare geskors is, wissel van agt dae tot meer as vyf jaar. ‘n Amptenaar wat vir vyf jaar geskors was, het die Gauteng-provinsie sowat R1,4-miljoen gekos.
Hierdie skorsings spruit uit meer as 3 200 dissiplinêre klagte.