Die dodetal, nadat ‘n aardbewing Mianmar, Thailand en buurlande getref het, het nou die 1 000 kerf verbygesteek.
Volgens owerhede is die meeste van die slagoffers in Mianmar se tweede grootste stad, Mandalay dood. Meer as 2000 mense is beseer.
Die aardbewing van 7.7 op die Richterskaal het gister Mianmar getref, onmiddellik gevolg deur ‘n naskok wat 6.4 gemeet het.
‘n Geoloog, Jess Phoenix het aan CNN gesê dat die aardbewing ‘n energie gelykstaande aan 300 atoombom ontploffings, vrygestel het.
Intussen weier reddingswerkers in Bangkok in Thailand om moed op te gee, en soek nog na oorlewendes by ‘n onvoltooide gebou wat weens die aardbewing ineengestort het.
Volgens owerhede is ses konstruksiewerkers hier dood, met nog nagenoeg 100 werkers waarna daar gesoek word. Die noodwerkers sê hulle kon tot dusver bepaal dat 15 konstruksiewerkers nog lewend onder die puin vasgekeer is.
Een van die reddingswerkers het aan die BBC gesê dat hy al op talle noodoproepe gereageer het nadat gebou ineengestort het, maar dat dié voorval een van die ergstes is.