23 Oktober 2023
Die VF Plus sê mediese eise wat die Vrystaatse departement van gesondheid tans moet uitbetaal, beloop meer as R24-miljoen.
Die VF Plus-LPW in die Vrystaat, Armand Cloete sê die eise hou verband met gesondheidswerkers wat glo nalatig opgetree het.
Cloete sê die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Mmathabo Leeto, het in antwoord op ʼn VF Plus-vraag in die Vrystaatse wetgewer erken dat nalatigheid onder andere tot die dood van ʼn ongebore baba gelei het.
“Nalatigheid was glo ook die oorsaak dat twee kinders nou serebraal gestremd is. In ʼn ander geval is ʼn depper in die buik van ʼn pasiënt vergeet wat tot ʼn ernstige galblaas-besering gelei het.”
Hy sê die party is veral bekommerd oor die 418 hangende eise waarby die departement betrek word. Soveel as 173 van die eise hou verband met na-geboorte komplikasies van serebraalgestremde kinders.
Hy sê hoewel nalatigheid in hierdie eise nog bewys moet word, is die VF Plus bekommerd oor die gevalle wat teen die departement aangemeld word en oor eise wat voorkom kon word.