2 Februarie 2023
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het gister aangekondig dat die media verbied sal word by die gesamentlike militêre oefeninge wat Suid-Afrika, Rusland en China se vlootsoldate aan die KwaZulu-Natalse kus gaan hou.
Die oefening van die drie vlote is geskeduleer vir 17 tot 27 Februarie in Suid-Afrikaanse waters naby Durban en Richardsbaai.
Die weermag sê omdat die oefening in die suidelike oseane uitgevoer sal word, is besluit om die media nie by die deelnemende vlootelemente in te sluit nie.
Die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais het die besluit as ondenkbaar en onaanvaarbaar beskryf, en sê dit kom voor of Suid-Afrika die geheime, outokratiese en diktatoriale styl van die Russe na-aap.
Hy meen die regering is moontlik ook “skaam oor hoe hy die weermag ten gronde laat gaan het.”
Foto: travelarium.ph via Shutterstock.com.