14 Oktober 2024
Die Thabo Mbeki-Stigting het ‘n verslag aan die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, gestuur waarin die oud-president, Chiloane se departement se hantering van die bewerings van rassisme by Pretoria High School for Girls veroordeel.

In Mbeki se skrywe kritiseer hy onder meer dat die departement al ingetree het voor daar enige bewyse was dat daar waarheid steek in klagtes oor sogenaamde rassisme by dié skool.
Verder verwys hy na die gebeure as ’n “ongelukkige voorval” en beklemtoon die gevaar wat dit inhou om verdeeldheid tussen gemeenskappe te saai en gesonde debat te demp.
AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey het in reaksie op Mbeki se skrywe gesê dat die Gautengse onderwysdepartement reeds baie jare berug is vir oorreaksie op ongetoetste bewerings teen funksionele skole.
“Die departement sweep graag gemeenskappe teen mekaar op en gebruik skole en kinders as politieke pionne, in plaas daarvan om op gehalte onderrig te fokus en onderwysspanne en beheerliggame te ondersteun.”
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die departement se optrede by PHSG weer bewys dat premier Panyaza Lesufi, LUR Chiloane en die departement bullebakke is wat diktatoriale beheer oor skole wil hê, tot nadeel van kinders, ouers en die magte van beheerliggame.
Foto: Africa Intelligence