Nuuskommentaar: 21 Januarie 2022
Deur: Melanie Buys (Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum)
Die nasionale ramptoestand en Covid-19-maatreëls het ʼn wesenlike impak op 2021 se matrieks gehad. Twee jaar van onderbroke onderrig, roterende roosters, gekanselleerde eksamens, aanpassings aan die kurrikulum en beurtkrag op die koop toe, het ongekende uitdagings aan onderwysers en leerders gestel. Hoe daar op hierdie uitdagings reageer is, maak egter die wêreld se verskil in matrieks se uitslae. Ten spyte van verlore onderrigtyd en uitdagings, is die nasionale slaagsyfer vanjaar 76,4%. Dit is laer as die 81,3% in 2019 maar effens beter as die nasionale slaagsyfer van 76,2% in 2020.
Heelwat skole het ʼn 100% slaagsyfer, verskeie leerders behaal onderskeidings en sommige provinsies se slaagsyfers het drasties verbeter. Die harde werk van suksesvolle leerders en toewyding van goeie onderwysers, verdien die hoogste lof.
Aanpassing van punte en lae slaagvereistes, laat die slaagsyfer egter beter vertoon as wat dit in werklikheid is. Volgens die Raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) was daar verlede jaar ʼn merkbare verbetering in die gehalte van eindeksamenvraestelle. Nietemin is byna helfte van die vakke se punte opwaarts aangepas. Suid-Afrika se swak prestasie in internasionale vergelykende studies wys hierdie ontoereikende standaarde uit.
Baie leerders slaag dus matriek, en kry selfs universiteit toelating, sonder die nodige kennis en akademiese onderbou om tersiêre studies suksesvol aan te pak.
Suid-Afrika se openbare onderwys huisves duidelik twee uiteenlopende stelsels in een. Ongeveer 10% van skole presteer uitnemend en handhaaf slaagsyfers digby 100%, maar in 72% van skole gaan leerders steeds net nou-en-dan skool en is maande se onderrigtyd verlore.
Die langtermynskade van verlore onderrigtyd en leerders wat opgee of druip, het ʼn verwoestende invloed op die ekonomie. Die DBO se gebrek aan strategie, ongekoördineerde ingrype en min gevolge vir onderpresterende onderwysers in diens van die staat, vererger die probleem. Daar moet dringend ʼn einde aan die ramptoestand kom, sodat alle skole na normaal terugkeer en doelgerig kan werk om verlore onderrig in te haal.
COVID het wel ook geleenthede geskep, en tegnologie het moontlikhede ontsluit wat voorheen ondenkbaar was. Funksionele skole het aanlyn strategieë in plek gestel en planne gemaak om leerders aan die gang te hou en agterstande in te haal. Goeie bestuur, toegewyde onderwysers en betrokke ouers het volgehoue prestasie verseker – ten spyte van uitdagings.
Moedertaalonderrig het deur die bank positiewe effek op prestasie. Afrikaanse skole lewer weereens vanjaar ʼn reuse-bydrae tot die nasionale slaagsyfer. Die sterk leerkultuur in hierdie skole kon nie deur die pandemie geblus word nie. Afrikaanse skole het, soos ander goeie skole, bewys dat hulle innoverend kan dink om uitdagings baas te raak. Universiteite en kolleges kry in 2022 sterk studente uit hierdie skole, gereed om selfgerig te leer.
2021 was ʼn jaar van uitdagings wat die veerkragtigheid van leerders en skole getoets het. Verskonings gaan nie probleme laat verdwyn nie en moet dringend aangespreek word.
Dit is tyd vir daadwerklike planne om leerders op ʼn voltydse basis te laat terugkeer skool toe. Die land kan nie bekostig dat meer onderrigtyd in die slag bly nie.
Goeie onderwys is die beste belegging wat ʼn ouer – en ʼn land – kan maak. Dit lewer ’n lewenslange opbrengs, waarsonder Suid-Afrika nie suksesvol kan wees nie.