31 Julie 2024
Nog ‘n beweerde, sogenaamde rassistiese voorval het die Pretoria High School for Girls getref.
Dit kom nadat ‘n video nou aan die lig gekom het, wat in Februarie vanjaar opgeneem is. In die video sê ‘n matriekleerling dat hulle (swart kinders) nog nie ‘n enkele wit persoon gevra het om voor hulle neer te buig nie.
Sy sê verder dat “hulle die wit kinders tot dusver hierdie jaar (Februarie), ‘n blaaskans gegee het, maar op Vryheidsdag in April (2024) gaan dit alles verander.”
LEES OOK: Girls High: Dissipline, en opvoeding nié net die skool se verantwoordelikheid nie, sê LUR
Die departement van onderwys in Gauteng het in ‘n verklaring bevestig dat die meisie vandag, 31 Julie geskors is. ‘n Tugverhoor sal binnekort gehou word.
Dit kom slegs ‘n enkele dag ná die LUR vir onderwys, Matome Chiloane gister dieselfde skool besoek het oor nog ‘n beweerde voorval van rassisme. 12 meisies is geskors, en tugverhore is gister en vandag gehou. Die meisies het glo op ‘n WhatsApp-groep, eksklusief vir wit meisies van die skool, swart leerlinge bespreek en onder meer gesê dat daar twee stelle reëls is afhangend van jou ras.
Girls High se skoolhoof, Phillipa Erasmus is ook gister vir drie maande geskors na die voorval. Volgens Chiloane is sy glo verlede jaar al van die WhatsApp-groep in kennis gestel, maar het na bewering niks daaraan gedoen nie.