6 Junie 2022
Die VF Plus het die speaker van die Mangaung-metro in die Vrystaat, Stefani Lockman-Naidoo, daarop gewys dat die 2022/23-begroting nie volgens grondwetlike vereistes aanvaar is nie.
Die VF Plus se raadslid in die Mangaung-metro. dr. Elizabeth Snyman van Deventer sê slegs 45 raadslede uit 101 het ten gunste van dié begroting gestem en dit is daarom nie grondwetlik goedgekeur nie.
Sy sê ingevolge Artikel 160(3)(b) van die Grondwet moet ‘n meerderheid van raadslede ‘n begroting goedkeur.
Die metroraad het nou ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet sewe dae om weer die begroting te oorweeg.
“Indien die begroting nie voor die eerste dag van die nuwe finansiële jaar (1 Julie 2022) goedgekeur word nie, moet die raad deur die provinsiale regering ontbind word. Daar sal dan ‘n herverkiesing van die raad moet plaasvind,” sê Snyman van Deventer.
Sy sê die VF Plus kan nie ʼn begroting steun wat belastingbetalers verder onder finansiële druk plaas nie. Die inwoners van Mangaung verdien beter as die ANC.