2 Augustus 2022
Die polisie in KwaZulu-Natal is steeds op soek na ‘n verdagte wat hulle ontduik het deur in die see by Ballito te duik.
Die nooddienste Medi Response sê die polisie was besig met padblokkades, toe hulle ingelig is van ‘n man, wat glo uit sy motor gespring het en in die rigting van die see gehardloop het.
Medi Response se woordvoerder, Paul Herbst sê die man is glo ‘n buitelander. Hy het in die water gespring en aan rotse probeer vasklou. Volgens Herbst het seeredders probeer om te red, maar die man het geweier om saam met hulle te gaan.
Volgens Herbst was die man aggressief teenoor seeredders en wou een van hulle onder die water druk. Hy sê die man is ‘n sterk swemmber en kon ongeveer 500 meter verder swem in die rigting van Zimbali.
“Ons moes die reddingsoperasie staak weens die man se weiering om hulp te aanvaar.” Waar die man opgeëindig het bly onduidelik. Die polisie ondersoek die voorval.