6 September 2023
Die polisie in Noordwes sê ‘n inhegtenisneming kan binnekort volg ná ‘n video van ‘n bakleiery in Klerksdorp wyd op sosiale media versprei is.
In die video lê ‘n man op die plaveisel in ‘n plas bloed nadat hy glo Sondagmiddag omstreeks 13:30 aangerand is. Kort daarna word ‘n ander man bewusteloos geslaan. Die polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh sê ‘n saak van poging tot moord word tans ondersoek.
Volgens Myburgh is ‘n 32-jarige slagoffer met ernstige breinskade in die hospitaal opgeneem. Sy sê die verdagte se identiteit is aan die polisie bekend.
Myburgh sê die ouer man wat aangerand is, het vanoggend ‘n klag by die polisie ingedien. Hy moes 17 steke aan sy kop kry nadat hy probeer het om die jonger man, wat aangerand is te hulp probeer snel.
Dit is nog onduidelik wat aanleiding tot die voorval gegee het.
