14 Februarie 2023
Parlementslede lewer tans repliek op president Cyril Ramaphosa se Staatsrede, wat hy verlede week in Kaapstad gelewer het.
Die leier van die DA, John Steenhuisen sê Ramaphosa het toesig gehou oor vyf rampspoedige jare in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hy was veral krities teenoor die hoë misdaadsyfer in die land, asook die kragkrisis.
Hy sê mense het na die president gekyk om oplossings te bied, maar was uiters teleurgesteld na sy afgelope Staatsrede. Volgens Steenhuisen sal die DA die mag terugbesorg aan die publiek.
LEES OOK: STAATSREDE: “RAMPTOESTAND SAL EINDIG SODRA PANDEMIE OP ANDER MANIER HANTEER KAN WORD”
Die leier van die EFF, Julius Malema sê sedert die Phala Phala-kwessie aan die lig gekom het, het Suid-Afrika nié meer ‘n president nie. Hy meen Ramaphosa het afstand gedoen van sy grondwetlike voorreg om die land te lei, deur sy betrokkenheid by die Phala Phala-gebeure.
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald sê swart ekonomiese bemagtiging is een van die hoofredes waarom daar probleme by Eskom is. Hy meen Eskom se planne wys dat hy oor die volgende drie jaar wit werknemers wil aflê.
Hy sê die VF Plus verwerp alle vorme van rassisme en het Ramaphosa daarop gewys dat rassisme van swart mense ook teenoor wit mense kan heers.
LEES OOK: KYK: OPPOSISIEPARTYE REAGEER OP GISTERAAND SE STAATSREDE
Die minister van polisie, Bheki Cele het op verskeie parlementslede se toesprake gereageer dat misdaad- en geslagsgebaseerde geweld in die land buite beheer is. Dit kom nadat Malema ook weer verwys het na die moord op Hillary Gardee, die dogter van die EFF se voormalige LP, Godrich Gardee.
Cele het ook verwys na Reeva Steenkamp, wat vandag 10 jaar gelede deur Oscar Pistorius vermoor is. Hy het uitgevaar teenoor die DA-leier, John Steenhuisen en uitlatings wat hy vroeër gemaak het teenoor sy eksvrou toe hy glo na haar verwys het as “road kill.”
“Ons as ‘n land moet saamwerk om die kwessie van geslagsgebaseerde geweld onder die loep te neem, en daarom rig ek ook dié uitnodiging aan meneer Steenhuisen.” Hy meen Steenhuisen moet om verskoning vra vir sy uitlatings teenoor sy voormalige vrou, en meen hy het sy eie vorm van geslagsgebasseerde geweld gepleeg toe hy met een van sy voormalige kollegas se vrou getrou het.
Malema het in reaksie hierop gereageer dat dit onaanvaarbaar is dat Cele uitlatings gemaak het teenoor Steenhuisen se vrou, en meen sy is nie daar om haarself te verdedig nie.