31 Julie 2023
Die burgerregteorganisasie, Afriforum, het sy teenkanting uitgespreek teenoor die leier van die EFF, Julius Malema se dreunsang van die lied: “Kill the boer”, tydens dié party se tiende-bestaansjaarsaamtrek.
Die omstrede lied is tydens Malema se afsluitingstoespraak by die FNB-stadion in Johannesburg gedreunsing.
AfriForum het voorheen ‘n haatspraaksaak teen die EFF aanhangig gemaak, maar die gelykheidshof het dit verlede jaar van die hand gewys. Die organisasie appelleer egter tans teen die hof se besluit.
AfriForum se uitvoerende hoof vir strategie, Ernst Roets, sê die feit dat die appèlsaak hangende is gee nie aan Malema die reg om dit in die tussentyd te sing nie. Roets het dit as onwettig bestempel. “As die lied nie haatspraak is nie, wat is haatspraak? Wat sal gedoen moet word voordat iets as haatspraak bestempel word?”
Die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi het die sing van die lied veroordeel. “Die DA beskou hierdie optrede deur Malema as onaanvaarbaar. Die aanhitsing van geweld het geen plek in Suid-Afrika nie.”
Die DA-leier, John Steenhuisen sê Malema is gevaarlik, en sal “geweld en anargie aanhits” indien hy ooit die nodige mag gegee word.
