9 November 2022
Die Menseregtekommissie (MRK) het die EFF – en die leier van dié party, Julius Malema – opdrag gegee om uitlatings tydens ‘n saamtrek verlede maand in die Wes-Kaap terug te trek en om daarvoor verskoning te vra.
Malema het onder meer gesê mense moet nie bang wees om dood te maak as dit kom by konfrontasie met sogenaamde wit rassiste nie.
‘n Woordvoerder van die MRK, Wisani Baloyi sê volgens bewyse – wat plakkate by die byeenkoms en Malema se toespraak insluit – het Malema hom skuldig gemaak aan haatspraak, aanhitsing tot geweld en moontlik ander oortredings van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.
Baloyi sê indien Malema en die EFF nie binne tien dae die regstellende stappe uitvoer nie, sal die MRK hom tot die gelykheidshof wend.
Enkele organisasies wat Malema by die MRK verkla het sluit die VF Plus, TLU SA en AfriForum in.